Die Sussex: Waardetoevoeging tot ’n mielieboerdery

Toenemende klem word in Sussex-kringe gelê op die belangrike rol van kommersiële graanprodusente wat hul boerdery met ‘n beesvertakking aanvul. Hierdie produsente speel ’n sleutelrol in die groei en volhoubaarheid van die Sussex-mark, wat nie uitsluitlik op stoettelers of groot ekstensiewe kommersiële beesprodusente kan steun nie.

Een so ’n mielieprodusent is JP Meintjes van die SJ Meintjes-boerdery buite Viljoenskroon. Sy boerdery, wat vernoem is na sy oorlede pa, Schalk Johannes Meintjes, verbou hoofsaaklik mielies op droëland (95%), terwyl die oorblywende 5% ’n suiwer Sussex-kudde met die oog op speenkalfproduksie is. Telers soos JP dra wesenlik tot die Sussex-mark by; ’n groot persentasie van bulle wat jaarliks verkoop word, word deur kommersiële mielieprodusente aangekoop.

’n Liefde vir beesteling
JP sê sy Sussex-beeste vul sy graanvertakking doeltreffend aan, veral deur uitvalgronde en oesreste te benut. Die Sussex presteer uitstekend op mieliereste, kalf gemaklik en het ‘n uitstekende voeromsetverhouding.

Beesboerdery is diep gewortel in die Meintjes-familie se geskiedenis. JP se oupa, Hendrik, was ’n gevestigde beesprodusent in die Ventersburg-area. Hy het ook op speenkalfproduksie gefokus. In 1988 het die familie na Viljoenskroon verhuis en hulself op Kruispan gevestig. Met die plaas se saai-eenhede wat groter as die weidingseenhede was, het hul fokus grotendeels verskuif na mielieproduksie.

Wat die beeste betref, het JP se pa aanvanklik met kruisteling begin, maar soos die kudde ontwikkel het, het sy Sussex-beeste al hoe meer uitgestaan. In 2001 is besluit om uitsluitlik
op ‘n suiwer Sussex-kudde te fokus. JP sê hoewel sy veekomponent vandag kleiner is as 
30 jaar gelede, hou hy vol met sy beesboerdery want hy is lief vir die ras, en daar is grond op die plaas wat nie vir saaidoeleindes geskik is nie, maar wel vir weiding. 

Raseienskappe
Die Sussex-ras bied alles wat hy in speenkalfproduksie soek. Sy koeie bied hoë kalfpersentasies, uitstekende moederinstinkte, kalwingsgemak, temperament en gesonde, swaar speenkalwers. JP belê uitsluitlik in stoetbulle, want hy weet hulle is geneties geselekteer om goeie speenkalwers te teel. Hy weet ook met sekerheid dat ’n koei makliker gaan kalf, juis omdat die stoetbulle se teelwaardes beskikbaar is
en bloedlyne duidelik onderskei kan word.

Stoetbulle stel hom in staat om sy teeldoelwit van hoë-gehalte, winsgewende speenkalwers te bereik. Dit bied ook die voordeel dat hy sy kudde kan uitbrei deur van sy top verskalwers as vervangingsverse terug te hou, ’n praktyk wat ’n sterk genetiese fondament lê waarop hy sy kudde verder kan uitbrei. Dit is een van die redes waarom hy soveel waarde heg aan stoetbulle – indien nodig kan hy top vroulike diere uit sy eie teelmateriaal selekteer om sy kudde verder op te bou.

Daarmee saam is die Sussex uitstekend aangepas by die mielieproduserende Viljoenskroon-omgewing. JP ervaar ook min probleme met siektes. Die ras is ook bekend vir sy goeie prestasie in ander dele van die land en in uiteenlopende omgewings. Bulle in die Viljoenskroon-omgewing is oor die algemeen groter as dié in byvoorbeeld die Oos-Kaap, waar hulle dikwels kleiner en meer aangepas is vir bergagtige terrein.

Hy meen die Sussex-bulle in sy omgewing het meer kapasiteit, breedte en diepte, deels omdat hulle mieliereste as aanvulling gedurende die wintermaande kan benut. Boonop is Sussex-bulle bekend vir hul eenvormigheid en goeie temperament, wat dit ’n aangename ras maak om mee te werk.

JP sê elke jaar, klokslag in Maart met speentyd, is sy kalwers op hul teikengewig. Selfs in droë jare handhaaf hulle die gemiddelde speengewig goed. Hy hoef dus nie later te speen of spesiale aanpassings te maak nie. Die gehalte van die speenkalwers bly konsekwent goed en hulle is op die regte tyd gereed vir speen.

Kruisteling vs suiwer kuddes
JP sê hy het sowat ses jaar gelede  suiwer Sussex’e met Bonsmaras gekruis. Destyds het dit vir hom gewerk en voordele ingehou, maar aangesien hy nie op grootskaalse beesboerdery fokus nie, het hy besluit om liewers net met suiwer Sussex-diere te boer.

Die voordele wat hy uit kruisteling gekry het, was nie groot genoeg om die ekstra bestuur te regverdig nie. Die werkslading en kompleksiteit van kruisteling was eenvoudig meer as die voordele. Teling met ’n suiwer Sussex-kudde bied vir hom meer voordele, soos genetiese eenvormigheid, beter bestuursdoeltreffendheid en bestuurbare kalwing.

Dek- en kalfseisoene
Die bulle dek die koeie in die graskampe teen ‘n norm van een bul per 25 koeie. JP roteer sy bulle in die helfte van die dekseisoen met twee bulle op 45 koeie om besetting te verseker. Die gemiddelde kalfpersentasie van sy vroulike diere is 90%. Dragtigheidstoetse word jaarliks gedoen en koeie kry twee jaar lank kans om dragtig te raak. Indien ’n koei nie binne hierdie tydperk ’n kalf lewer nie, word sy uitgeskot.

Hy bestuur een dekseisoen per jaar, vanaf middel Oktober tot einde Desember, terwyl die kalfseisoen vanaf Julie en Augustus tot vroeg in September strek. Koeie word natuurlik gedek.

JP se kalwers het ’n gemiddelde geboortegewig van 38kg. Hy speen hulle op ongeveer ses maande vanaf grasweiding, en selekteer hulle volgens gewig. Die gemiddelde speengewig is tussen 240 en 245kg. Sodra die kalwers gespeen is, word hulle dieselfde dag gelaai en direk na die voerkraal geneem. JP sê Sussex-speenkalwers is in hoë aanvraag by voerkrale.

Verse wat teruggehou word, word op ’n ander plaas grootgemaak, weg van hul moeders.

Mielies in die voerprogram
Omdat hy graansilo’s op die plaas het, word al die mieliesifsels as veevoer benut. Vanaf middel Mei, wanneer hy begin stroop en die eerste landerye beskikbaar raak, begin die dragtige koeie en verse op die oesreste wei, ‘n praktyk wat natuurlike weiding en gras spaar. Teen einde Junie, net voor kalftyd, word die koeie van die oesreste afgehaal om moontlike kalwingsprobleme weens oorvet diere te verhoed. Hulle word dan in graskampe gesit waar hulle byvoeding ontvang.

Die voeding bestaan uit mieliesifsels wat met grasbale en ’n minerale-aanvulling gemeng is. Hierdie mengsel is ’n baie doeltreffende voedingsbron en dra die kudde deur tot Oktober. JP sê sy mielieproduksie vul die beeskudde uitstekend aan. Deur die jaar benut hy sy mielielanderye doeltreffend, nie net vir graanproduksie nie, maar ook vir voer.

Hoewel die mark soms vleis van grasgevoerde beeste verkies, is daar ’n koste-implikasie, veral waar natuurlike weiding nie volop is nie. Oesreste bied ’n bekostigbare alternatief en verbeter steeds die gehalte van die vleis.

Dragtige koeie op mieliereste kry ’n droëveldlek. In die somer, wanneer hulle op natuurlike weiding loop, kry hulle ’n fosfaatlek. JP se somerweiding bestaan uit natuurlike gras en aangeplante Smutsvinger op dele wat minder geskik vir mielie-aanplanting is. Hierdie uitvalgebiede is lank gelede vir dieselfde rede deur sy voorgangers omgeskakel in graskampe vir weidingsdoeleindes.

JP is dit eens dat, hoewel sy Sussexkomponent ’n klein gedeelte van sy boerdery uitmaak, dit belangrike waarde toevoeg. ’n Beeskudde, sê hy, is soos ’n bank: Dit bied finansiële steun wanneer dit nodig is.