- 082 922 4616
- Mon - Fri: 8:00 - 17:00
Genomika en die vermoë om ‘n dier se unieke DNS-volgorde vas te lê, het ‘n hoeksteen van stoetteling geword. Meer as 50 000 DNS-merkers bekend as enkelnukleotiedpolimorfismes (SNP’s) word op ‘n genomiese skyfie (genotipe) geanaliseer en staan populêr bekend as die ‘alles-in-een’ DNS-toets.
Enkelgene
Wanneer gene muteer vind veranderinge plaas wat variasies van die oorspronklike (‘wilde’) vorm skep. Hoewel sommige gene verskeie variante vertoon, erf ‘n dier slegs een geen van elke ouer wat identies (homosigoties) of verskillend (heterosigoties) kan wees. By laasgenoemde kan een alleel domineer. So byvoorbeeld sal ‘n dier met een poena- en een horing-alleel poena voorkom, omdat die poena-alleel domineer. Dit gebeur egter min dat eienskappe deur ‘n enkele geen bepaal word, aangesien interaksies met ander gene en omgewingsfaktore dikwels die fenotipe beïnvloed.
Die poena-geen is op chromosoom 1 geleë en beheer die gehoringde of poenskop-uitdrukking daarvan in beeste. Die eerste geïdentifiseerde mutasie, die Keltiese variant, is in Brahman-beeste ontdek en is die hoofrede vir die poenavoorkoms in vleis- en melkrasse wêreldwyd. Daar is wel bevind dat sommige fenotipies poenskopbeeste, homosigoties gehoring (HH) is vir die Keltiese variant; dit dui op die teenwoordigheid van bykomende mutasies.
Verdere navorsing het drie bykomende poenageenvariante geïdentifiseer: die Friesvariant wat in Holsteins en sommige vleisrasse teenwoordig is, die Mongolese variant in Kasakse rasse, en die Guarani-variant in die Nelore- en Gyr-rasse. Hierdie vier poenskopvariante is gesamentlik verantwoordelik vir die poena-voorkoms in alle beesrasse. Die Sussex-vleisbeespopulasie in Suid-Afrika het ook individue wat heterosigoties en homosigoties is vir die Keltiese poenskopvariant. Wanneer ‘n homosigotiese poena-bul dus gebruik word, sal sy nageslag poenskop wees, selfs al is hulle met gehoringde koeie gepaar.
Vleissagtheid
’n Onlangse studie onder Suid-Afrikaanse vleisbeesrasse het getoon dat ‘n paar mutasies van die kalpastatien- en kalpaïengene vleissagtheid beïnvloed wanneer spier ná slagting na vleis omgeskakel word. Sekere mutasiekombinasies lei daartoe dat sekere diere geneties meer geneig is tot sagter vleis. Hierdie mutasies kan gekombineer word om ‘n sagtheidstelling wat wissel van 1 (gemiddeld) tot 6 (sagste) te genereer. Die plaaslike Sussexpopulasie toon gunstige kombinasies van hierdie mutasies en meer as 60% van die genomies-getoetste populasie spog met ‘n telling van 4 en 5 (sagter).
Melkverwante mutasies
Die gene wat met melkeienskappe in melkbeeste geassosieer word, beïnvloed dieselfde eienskappe in vleisbeeste. Die ABCG2-geen is bekend daarvoor dat dit melkvolume verhoog, terwyl dit melkvetinhoud en -persentasie verminder. Die geel melkvet (YMF)-mutasie inkorporeer betakaroteen in die melk- en vetweefsel, wat dit ‘n effense geel kleur gee. Die Sussexpopulasie is vry van beide die ABCG2- en YMF-mutasies.
DGAT1, ‘n belangrike geen in vleisbeeste, het ‘n beduidende toevoegingseffek wat melkvet, intraspiervet en karkasvet verhoog. Die plaaslike Sussex-populasie het ‘n lae frekwensie van die DGAT1-mutasie. Betakaseïen, wat algemeen met A2-melk geassosieer word, verbeter beide melkvolume en proteïenproduksie.
Wat hou die toekoms in?
Genomika sal nie die aanteken van prestasie- en vrugbaarheidseienskappe vervang nie; dit help slegs om die stamboomkant van BLUP-vergelykings te versterk. Fenotipe sal altyd koning kraai, terwyl genomika die koningin is waarna die koning nog altyd op soek was. Genomika is hier en bied hedendaagse en relevante toepassings sodat jy jou kudde na die volgende vlak kan neem.